yzerfontein.net

Jewel on the West Coast

Yzerfontein Geskiedenis

Geboorte van ‘n dorp en ‘n gemeenskap in eie reg

OP Yzerfontein lê ‘n gemeenskap vol lewe, vol herinneringe. Dit is hierdie gemeenskap en sy voorvaders wat van dié dorpie gemaak het wat hy vandag is. Mnr. Jeff Katz, kleinseun van die stigter van Yzerfontein, mnr. Abraham Katz, deel van hierdie herinneringe.

Mnr. Abraham Katz het teen die draai van die eeu op Malmesbury begin boer. Hy was pa van agt kinders, van wie Lutie Katz, gebore in 1900 op Malmesbury, die oudste was.

Lutie het skoolgegaan op Malmesbury en by S.A.C.S. in Kaapstad en is daarna Stellenbosch toe na die Elsenburg Landbou Kollege. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy saam met sy pa begin boer. Pa en seun se boerebelange het ook uitgebrei na die Noord-Kaap, Namibië (SWA), die Kaapse Vlaktes en Durbanville. Verder was hulle betrokke by eiendomsontwikkeling in die suidelike voorstede van die Kaap.

Mnr. Abraham Katz en sy seun, Lutie, was volgens almal wat hulle geken het regte Boerejode, dit wil sê hulle was gerespekteerde en gewaardeerde lede van die ge meenskap. Abraham Katz was op sy tyd ook voorsitter van die Malmesbury Hibreeuse Kerk en het die hoeksteen van die Sinagoge in 1911 gelê. Die Sinagoge is vandag ‘n volwaardige museum wat die geskiedenis van die Swartland en sy mense, asook die Joodse gemeenskap vasvang.

Pa en seun, Abraham en Lutie Katz, het Yzerfontein Seaside Estates Eiendoms Beperk op 23 November 1936, vandag 60 jaar gelede, gestig. Hulle was die twee ontwikkelaars wat die dorp gestig het. Mnr. Jeff Katz, seun van Lutie en huidige besturende direkteur van Yzerfontein Seaside Estates, vertel hoe sy pa en oupa by die onderneming betrokke geraak het: Hulle loop ‘n vriend van hulle, mnr. Jimmy Rees, in die strate van Kaapstad raak. Dié vertel hulle dat die Yzerfontein plaas te koop is en probeer hulle ompraat om te koop. Mnr. Rees het toe vir sy pa en oupa na Yzerfontein geneem en op die seerant naby Schaapeiland gestaan en die grense van die plaas uitgewys. Terwyl sy oupa nog staan en dink daaroor, het sy pa omgedraai en gesê: “Koop, Pa.” Daarmee was die besluit geneem en die grond gelê vir die toekoms van ‘n dorpie en ‘n gemeenskap.

Mnr. Jeff Katz, besturende direkteur van Yzerfontein Seaside Estates, en sy broer, mnr. Dennis Katz, ook ‘n direkteur van die maatskappy, volg vandag in die voetspore van hul pa, Lutie, en oupa, Abraham, deurdat hulle steeds ‘n belangrike rol in die uitbouing van Yzerfontein as ‘n gemeenskap speel. Benewens die feit dat hulle steeds besig is om dié dorp, wat beskou word as die “Juweel van die Weskus”, uit te brei en te ontwikkel, het hulle ook onlangs ses erwe aan die NG Kerk geskenk met die doel om ‘n kerk en saal te bou vir die gemeenskap. ‘n Splinternuwe kerkgebou is byna voltooi. Mnr. Jeff Katz het ook gedien in die eerste Plaaslike Raad van Yzerfontein wat op 17 Julie 1989 gestig is.

Bron:  Die Burger 23 November 1996

2 Responses to Yzerfontein Geskiedenis

  1. Wilna says:

    When did the Smit familie start buying land in Yzerfontein.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *