Yzerfontein Naam


Oorsprong van ‘n naam vol karakter en betekenis

Yzerfontein met sy gevestigde woonhuise en pragtige natuurskoon is ‘n dorp vol karakter.

YZERFONTEIN Weskuswonder is onlangs geskryf deur dr. Matilda Burden van die Universiteit van Stellenbosch. Hierdie boek is ‘n samevatting van dié Weskus dorp se geskiedenis en karakter vanaf sy ontstaan tot nou. Die volgende interessante uittreksel uit die boek werp lig op die oorsprong van die naam Yzerfontein.

Yzerfontein is in die pragtige Groene Cloof streek geleë ‘n naam wat vanselfsprekend dui op dié gebied met sy baie groen weiveld, wat net ná die vestiging van die Nederlandse verversingstasie een van die belangrikste faktore en vereistes vir die Europeërs was. Hulle moes vleis voorsien aan die verbygaande skepe en daarom was weiveld van uiterste belang.

Hoewel die geografiese voorkoms van die gebied nie ‘n enkele kloof vorm nie, kom daar wel heelparty klowe in die gebied voor.

Die naam is op 31 Oktober 1682 deur vaandrig Olof Bergh aan die gebied gegee. In 1701 is ‘n buitepos van die Kompanjie daar gestig wat militêre beskerming aan die veeherders met groot veestapels gebied het.

Die naam is verder interessant vanweë die baie verskillende spel lings wat daarvan opgeteken is. Die spellings wat die meeste in die ou dokumente voorkom, is waarskynlik Groene Cloof, maar die volgende spellings is ook gevind: Groene Clooff, Groene Cloov, Groene Klooff en Groenkloof.

Die herkoms van die plaasnaam Yzerfontein is minder eenvoudig. Vir baie mense blyk dit voor die hand liggend dat daar ‘n fontein op die plaas was waarvan die water ‘n beduidende ystersmaak gehad het. Die water het glo ook roeskleurig vertoon omdat dit deur ysterklippe na bo geborrel het. Dié teorie word bevestig deur die skrywer Lawrence Green as hy sê: “They found a spring there with rusty coloured water tasting not unpleasantly of iron, hence the name.” Daar is egter ook die enkeles wat meen dat “yzer” die Hollands is vir ysig koud en dat die water van die fontein yskoud was. ‘n Derde verklaring lui dat daar ‘n baie groot ysterklip naby die belangrikste fontein op die plaas gelê het. Die naam het dus ontstaan na aanleiding van die ysterklip en die fontein.

As ‘n mens gaan kyk na een van die vroegste spellings van die naam Eijzerfontein, is die moontlikheid seker ook nie heeltemal uitgesluit dat die plaas na ‘n persoon vernoem is nie, aangesien Eijser ‘n naam was wat wel daardie tyd aan die Kaap voorgekom het. In 1723 was daar ‘n Kompanjiedienaar met die naam van Jurijan Eijser wat deel van die span was wat moes ondersoek instel na die stranding van die Schoonenberg wat aan die einde van 1722 by Kaap Agulhas plaasgevind het. Daar moet egter op gelet word dat die heel eerste spelling wat gevind is in die Resolusies van die Politieke Raad, IJser Fonteijn is.

Laasgenoemde versterk weer die teorie van die yskoue water, aangesien die Nederlandse spelling “ijs” slegs dui op bevrore water, terwyl “ijzer” dui op yster.

Ons weet egter dat dit hoege naamd nie veilig is om spellings in die sewentiende en agtiende eeu as argumetne aan te voer nie, aangesien baie woorde, persoons- en plekname talle variasies in spellings getoon het, hoofsaaklik vanweë lae peil van geletterdheid.

Verdere spellings van Yzerfontein wat in dokumente gevind is, is bewys van die moontlikhede tot variasie: IJser Fonteijn, Eijzerfonteijn, Ijzerfonteijn, Yzer Fonteyn, Eyserfontein en Ysterfontein.

Bron:  Die Burger 23 November 1996

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *